Shopping Cart

No products in the cart.

Gereelde Vrae

WAT JY WIL WEET

Is mense wat Engels praat ook welkom?

Soos altyd is almal welkom. Steve se musiek is meer universeel en toeganklik as vele Suid Afrikaanse sangers. STEVE DOEN STEVE sal, met uitsonderings, ‘n Afrikaanse geleentheid wees.

Gaan Steve weer iets van Neil Diamond doen?

Hoekom nie? Maar STEVE DOEN STEVE is oorwegend sy eie skatkis van Afrikaanse liedjies wat al reeds ‘n lywige aanbod is. Maar ons vermoed dat die dames AMANDA en CAROLINE sekerlik ‘n draaitjie sal maak.

Was AGTER ELKE MAN vir Antie Stienie geskryf?

Tot in ‘n mate, ja, bieg Steve. Dit vertel eintlik die storie agter die hele Agter Elke Man reeks wat so gewild was in die 80’s. Karakters soos Joyboy en die Welfare Goose, uit die fliek, maak ook verskynings in die ou treffer. Maar Ant’e Stienie se juweeltjies is oral geplant, soos: “daar’s net rêrig rykdom as daar goud is in jou hart.” Steve sing dit ook in Bruce, sy karakter, se eiesoortige skiewietaal; “Ek scheme ‘n ou score nooit nie…”.

Wat was Steve se eerste Afrikaanse treffer?

LAASTE LAG (1990). Vreemd genoeg was dit 7 STEELWAY en KNOW ME wat sy eerste treffers was. Maar dis met LAASTE LAG dat Steve geweet het dat Afrikaans ontgin sal moet word vir Country, Rock en Folk. Hy sou ook vandaar effe buite die homogene genre-patrone speel. Steve self sê hy is ‘n digter en storieverteller, eerste. Dan ‘n vermaakkunstenaar. Daarna eers ‘n rocker. Wat ons weet hy kan doen!

Weet Steve dat hy soms omstrede is?

 Steve voel weer dat dit sy roeping as kunstenaar, skrywer, denker en digter is om daar te gaan woon waar ander nie wil kyk nie. Hieroor sal beperkings op vryspraak vir hom altyd ‘n grootse taboe wees. Hierbenewens is hy ‘n ongeneesbare Boerkind met ‘n reusagtige dankbaarheid teenoor sy herkoms in ‘n onbaatsugtige diens teenoor sy kultuur en taal.

Gaan Steve hom in politiek begeef?

Het jy al met Steve gesels? Hy het ‘n voorliefde vir politiek, soos vir geloof, wetenskap, sosiologie, musiek, digkuns, jag en rugby. Hy is egter nie ‘n politikus nie en beywer hom nie eintlik vir ‘n party of parlementêre agterbank nie. Sy vyand wil dit so hê, maar soos Steve sê: ek mag nie toelaat dat hulle MY kulturele gewoontes HULLE politieke speelbal maak nie.

Wat is Steve se gunsteling Steve lied?

Dit wissel. Onlangs is dit FEESLIED. Nie omdat dit so lekker was om Zambezilaan se verkeer te stop nie, maar omdat die lied met ‘n monumentale gees soos ‘n stoomtrein deur alles bars. Dis effe Steve-erig.

Wat is Steve se gewildste lied?

Uit die stromings-algoritmes van platforms soos Apple, Spotify en Deezer blyk die gewildstes DIE LAND, AMANDA, EK KORT en PAMPOEN te wees. AMANDA spog met bykans 20 miljoen kyke op You Tube. Die ander grotes is AGTER ELKE MAN, KYK HOE LYK ONS NOU, REDGEBED en DIE BLOUBUL. Natuurlik.

Hoe laat maak die hekke oop?

Hekke open om 10:00 vir die gehoor om darem kos en drinkgoed voor die tyd te kry en ook om voortydig die partytjie aan die gang te kry voor Steve afskop.
Onthou asseblief dat die stalletjies NIE oop sal wees tydens die vertoning nie.

Wat gebeur as dit reën tydens die konsert?

Presies wat laasjaar gebeur het. Niks het die gees beïnvloed nie en Steve het selfs in die reën gedans saam met sy gehoor. Bring weer jou reënjas en sommer ‘n ekstra sambreel want hier word weer groot konsert gepleeg … come hell or high water.
Ons dink tog die reën laasjaar was ‘n klimatologiese glipsie.

Is die hele familie welkom?

Absoluut. Steve se eie konserte is by uitstek groot, nostalgiese, familie-sametrekke.

Kan kinders gratis bywoon?

Kinders onder 10 het gratis toegang. Dit is slegs beperk tot Algemene Toegang (General Access) kaartjies.

Is die kaartjies gereserveer vir die gehoor?

Nee, geen kaartjie is gereserveer nie alhoewel die areas t.o.v. jou kaartjie afgebaken sal wees. Dis hoekom die hekke vroeg oopmaak; kom kry betyds jou plekkie om te skoffel en te kuier!

Is daar stoele vir die gehoor in die amfiteater?

Die BBP en Goue Sirkel-kaartjiehouers betaal ekstra vir ’n stoel wat verskaf word. Kaartjiehouers met Algemene Toegang (General Access) kaartjies moet hul eie kampstoele saambring. Let daarop dat GEEN gazebo’s, tente, karavane en opblaasswembaddens toegelaat sal word nie.
Dis om te verseker dat die mense agter jou darem ook kan sien.

Is daar parkering by Die Monument?

Ja, teen R20 per voertuig.

Is daar kos en verversings beskikbaar?

Drinkgoed van warm tot koud, kos van pap tot Pampoen. Stalletjies sal Kaartmasjiene hê.

Is daar ’n biertent?

Ja, jy sal nie jou eie drankies mag inbring nie. Al is dit ’n bottel driejaar Eendracht Brandewyn! Dit sal alles daar beskikbaar wees.